Menu
Cart 0

Ry en Loop van Otter na Riemland

Posted by Dawid de Wet on

Daar was geleenthede tydens my reis dat ek gedink het wat de drommel doen ek nou eintlik. Dis die jaar 2006, mense gaan nie meer stop en my oplaai nie, dis te gevaarlik. Maar dis juis die avontuur van duimreis, jou emosies spring van ’n Springbok-nederlaag tot by die ekstase van Gibbs-sesse in die wêreldbekertoernooi. En die gevoel van tevredenheid en geholpenheid wanneer ek opgelaai word en net kan sit en die bome en die kilometers flits verby en ek weet nou’s ek reg tot by die volgende dorp. Dis opwindend én skrikwekkend. 

Die sproei van die Indiese Oseaan het nog aan my gekleef ná die Otter-staproete en ek moes die motor by die beginpunt in die Tsitsikamma Nasionale Park gaan haal. Net verby die tolhek op die N2 kry ek toe ‘n geleentheid by ‘n oom wat vir die padwerke rondry.

Terug in Nature’s Valley ry ek saam met my twee stapmaters tot by Port Elizabeth se Translux-terminus by die Greenacres-winkelsentrum waar ek ‘n buskaartjie van Grahamstad na Mtatha koop. Maar eers moet ek in Grahamstad kom. Taxi’s na dié studentedorpie vertrek vanaf die Afrika-terminus. Op pad na die Afrika-terminus moet ek vir twee taxi-sitplekke betaal, want “dit lyk of meneer vir altyd weggaan met daai sak”. Dalk is dit juis wat ek wil doen om my siel te versadig en weg te kom van die ongeduldige stad. Maar alle reisigers se grootste vrees het my ook beet - ek moet op ‘n sekere datum terug wees in Pretoria.

Die bestuurder en sy handlanger laai my onder ‘n brug af en dui aan in watter rigting ek moet stap. Ek bereik die geskikte vertrekpunt en snuffel vir my ’n plekkie uit. Dis hierdie deel van die reis wat vir my so aanloklik is. Dit is Afrika. Enige mens wat nie taxi ry nie, mis uit op menswees in Suid-Afrika. Die terminus is ’n gekletter van klikklanke, en ’n oorvloed van kleure, hoede, bagasie, televisies, hoëtroustelle, stukkende voertuigdeure, solo-sjokolade in plastiekhouers en koeldrank. Dis ’n vendusie van die lewe, van die mens se bestaan. Reisigers word deur handlangers rondgestuur, georganiseer en opgeprys soos kallers op ’n vroegoggend vendusie in Bela-Bela. Dit lewe, toet, stink wind op, maar dis opwindend. Dit pols.

Ek neem weer die sitplek van die nomade in, met ‘n uitsig regs agter uit die taxi-venster. Die bestuurder is haastig, tyd is geld. Hy gesels lekker, luister Umhlobo Wenene en die nuusleser lees die temperature: “Skukuza 40 wow, Phalaborwa 40 wow, Musina 42 wow wow.” Dit gaan ’n warm somer wees. Die bestuurder jaag en ons jaag saam.

Ek kom uiteindelik by my neef in Grahamstad aan. Volgens die owerhede is Grahamstad se water “giftig” en dit mag nie gedrink of gebruik word vir was nie. Dis in elk geval nie so vroeg op ‘n reis al nodig om te was nie, dink ek. Beet en frikadelle vir aandete het my laat dink ek het bilharzia toe ek die volgende oggend gaan water afslaan.

Ek geniet dit om solo te reis. Ek maak kontak met party mense en beleef ’n tyd van nie-kontak met ander. Van Grahamstad is ek met die bus oor Peddie en King William’s Town na Oos-London en vandaar na Mtatha met ‘n Hollywood box office hit wat kliphard oor die mikrofone dreun. Dié gemakspul is nie vir my nie.

Mtatha op ’n Saterdagmiddag ... ek stap maar aan. Die mense kuier hul Saterdagmiddagkuiers. Die weer is bedonnerd. Ek stap af in Nelson Mandela-weg en vra aanwysings na die Circus Triangle-taxi’s. R20 tot by Tombo stores. Ek skuifel na die agterste sitplek onder instruksies, maar daar is nie plek nie. Die twee mama’s maak plek - vir ’n muis. Soos wat ek my boude in daardie algemene rigting stuur, skuif hulle nog so ’n bietjie en ek sak weg in die reisiger se genot van salig sit. Nou is my beursie en selfoon veilig. Die ruite wasem vinnig toe en ek kan net by die vooruit uitsien. Ons luister sokker: “Black Leopards 1, Supersport United 1, it is a whole new ballgame. Die son trek water, or miskien die water trek son.” Die gemoedsrus wat ek in die taxi ervaar is verslawend.

Waar die pad afdraai na Mpande, klim ek af. Hier staan ‘n paar kerkmense met lang wit en blou rokke en ‘n dronkie wat my belowe hy is die “stigter” van New York en wag vir ‘n geleentheid verder. Ek klim voor in die taxi-bakkie saam met George. Die grondpad is sleg. Die uitsig is goed. Hy laai my by The Kraal Backpackers af en Johnny sluit die hek agter my. Dis ook Johnny wat my aandagtig dophou terwyl ek my tent opslaan.

Die wolke hou die volmaan terug, maar nie die rukwind en druppels wat lek aan my tent nie. Die volgende oggend by die Tsweleni Spaza Shop op die hoogte agter die backpackers koop ek twee appels en ‘n peer vir R1,50. Ná ’n bietjie rondloop al met die pad binneland toe, swaai ek suidwaarts na Sharks’ punt en die skeepswrak. Joseph het my vertel van dié name, hy bly ook in daardie rigting. Joseph ken Pretoria, hy het al in Waterkloof gaan “speel”. Hier vertoef ek bietjie op die rotse en stap toe strandlangs tussen die vroue en beeste deur.

Later die dag is ek in ’n noordelike rigting oor die riviermond en tussen beeste deur met ‘n paadjie na bo. Hier is dit mooi, mooi, mooi, vreedsaam. Daar is die inheemse kusbos reg onder my, dan die strandriviermonding, regs die rivier met hooggety wat in hom opstoot. Links is die wind wat baljaar op die oop see. Dan begin die kaal groen heuwels met hutte, huise en erwe. Die heuwels so ver soos die oog kan sien. En die kuslyn breek teen die see. En die wind waai. En: “Nee, ek het nie sigarette nie” moet ek ‘n paar maal herhaal. Op pad terug volg ek ’n ander paadjie deur die digte kusbos. Ek loop myself amper vas teen ’n seuntjie met ’n stok en ’n vis en ’n geskokte uitdrukking op sy gesig. Ek wonder wie het die grootste geskrik.

Van Mpande af kry ek ‘n geleentheid saam met die eienaar van The Kraal, Dillon, Port St Johns toe agterop die bakkie. Die inheemse bosse van die kus gee pad vir die grasheuwels naby Lusikisiki. Dis ’n besige dorp, en ’n wonderlike plek vir inkopies van ’n ander aard. Dis grootmaat koop by al die cash and carry winkels, of klein onbenullige goed langs die straat wat baie aanloklik lyk. Ek is die eerste passasier na Kokstad, teen R40. Die taxi is raserig en die ou man in die tweede ry klets die hele tyd en hou die spul aan die lag. Gelukkig was ek uit die spervuur heelagter regs. In Kokstad drentel ek agter ‘n dronkerige Matthew aan. Vir hom is alles net te “heavy”: duimgooi, besigheid in Pretoria, my sak. Hy is reg. Ons loop byna die hele Kokstad plat en verkyk ons aan die lewe wat voor ons afspeel. Op een plek speel ’n groep gospelmusiek en die skare sing saam terwyl ’n seun tien meter verder ‘n loesing kry. Al wat Matthew op die ou einde vermag het, was om my op die regte pad te kry – die pad na Underberg. Ek het eers ’n hele ent uit die dorp geloop en amper ‘n angsaanval gekry van die rustigheid tussen die hoë groen bome ná die besige middedorp. Ek ry saam met mnr Williamson, sy vrou en hul kaalvoet kleinseun, in ‘n Bantam tot by Franklin. Hulle bied my slaapplek aan as ek nie verder sou regkom nie. Maar dit was nie nodig nie, want die bus het kort daarna aangekom en vir R25 was ek op pad Underberg toe.

Almal in die bus het inkopiesakke gehad. Ek het heelvoor links gesit en moes elke keer my knieknoppe verby my ore trek om plek te maak vir die passasiers wat afklim. Die groen Drakensberge in die agtergrond het ons heelpad dopgehou. Die lug was kristalvars en het my later geknyp agterop ’n bakkie van Underberg tot by Himeville. Dit word donker en die kans vir ’n geleentheid al hoe skraler. Net toe ek begin dink aan tent opslaan in die woesterny, stop ‘n Volkswagen Golf. Dis twee Franse, Marian en Dennis, en hulle is op pad na die Sanipas Backpackers. Kan jy nou meer, dis waarheen ek ook op pad is. Van hier vertrek ek te voet in Lesotho se rigting. Iewers langs die pad kry ek ‘n geleentheid saam met plaaslike mense tot waar die Giants Cup-staproete begin. Die bestuurder reken Sanipas is redelik plat vir nog so nege kilometer tot by die Suid-Afrikaanse grenspos en vandaar is dit nog agt steil kilometer tot bo. Ek stap maar aan. Sowat twee kilometer voor die Suid-Afrikaanse grenspos kom ’n leë taxi verby en ek klim in. Net anderkant die grenspos laai ons twee Franse en Marco, ’n Italianer wat in Spanje woon, op. Die pas is ongelooflik, net soos die taxibestuurder se vernuf agter die stuurwiel. Die taxirit kos R30, maar die grenspos is gratis en absoluut informeel. Ek slaan tent op by die Sani Top Chalets Backpackers en mik na Hodgonspiek vir ’n pragtige uitsig op die Republiek.

Terug by die kamp gaan stap ek met die plato langs na die noordekant van die Sanipas. Die sagte laatmiddagson maak die kerf in die aarde soveel meer dramaties. Die volgende oggend verrys die mis uit die vlaktes van Suid-Afrika en my arendsblik uit Lesotho is ’n geseënde ervaring. Dié land eindig hier skielik en val weg na benede, na Suid-Afrika. Van hierdie uitsigpunt kan ek verstaan dat Mosjesj se bergkoninkryk nooit beset is nie. Ek en Marco, die Italiaanse Spanjaard, het besluit om saam te reis na Mokgotlong. Hy weet duidelik nie wat persoonlike ruimte is nie en staan bo-op my as hy sy vrae vra. Maar dis tog lekker om ’n reisgenoot te hê. Ek het ook my laaste paar kledingstukke vir ‘n peer en agt pakke koekies verkwansel. Nadat ek ’n uur lank uit Madiba se boek en die Italianer uit sy Lesotho-gidsboek gelees het, kry ons ’n geleentheid met ’n Hollandse paartjie. Dis ’n wonderlike mooi pad deur ’n verlate deel van Lesotho wat aansweef so ver die oog kan sien. 

Dis steeds grondpad by die afdraai na Thaba Tseka waar ek die groepie verlaat. My rugsak is nog nie eens op my rug nie toe stop twee besnorde, Afrikaanse polisiemanne. Hulle vat my tot in Mokgotlong waar die pad teer word. Ek wag twee ure lank om die beurt binne die halfleë, warm taxi of buite in die son. Maar helaas, die wag is deel van die reis. Die voorste ry sitplekke van die taxi word gebruik vir iemand se nuwe meubels. Dit voel of daar slegs ’n seil oor die staalpype van die bank waarop ek sit, gespan is. Die styfheid in die ledemate is alreeds aan’t kom en die tog lê nog voor. Uiteindelik vertrek ons en ry oor die heuwels en valleie van Lesotho. Die pad vat ons oor die Senqurivier, wat die oorsprong van die Oranjerivier is. Die wêreld is bergagtig en groen, maar die natuurlike weiding word verwoes. Die littekens van erosie is duidelik teen die hange te sien. Ons stop êrens ná ’n uur se ry, maar ek glo nie ons het te ver gevorder nie. Daar is nog 160km van die 195km na Butha Buthe oor, bevestig die inligtingsbord. Ons teken in ’n boek vir ‘n noodgeval, betaal R60, koop van die alomteenwoordige ontwikkelende land se deegbolletjies (dieselfde as wat jy in Malawi en Nepal sal raakloop), en ’n koeldrank. Twee meisies kom gesels met my deur die oop venster, vra vir kos en sien dan my groot skoene en lag en sê ek het die kos nodiger as hulle. Toe hulle weg is en ek links kyk, het twee manne die skaap wat oomblikke tevore onder ’n seilafdakkie aan ’n houtpaal vasgemaak was, beet. Die skaap se pote is intussen vasgebind en hulle is besig om die dier in ’n streepsak te prop - alles so ewe gemaklik. Toe ek weer sien, plak hulle die skaap neer langs my rugsak buitekant die taxi. Die stomme dier moet saam in die propvol taxi. Ek sit met my linkervoet op die wheel arch, my regterbeen in sy moer in gebuig, my kop gebukkend onder die speaker wat vinnige Basotho-deuntjies blêr, my linkerarm heeltemal by die venster uit (deels om meer plek te skep én om vashouplek te soek). En so ry ek toe met ’n vertikale uitsig op die westekant van die oorspronklike Dak van Afrika-tydrenroete deur die ooste van Lesotho. Ek glo vas dié bestuurder moes een van die pioniers van die roete gewees het. Hy jaag met mening en oor altwee bane teen die meëdoenlose passe af. Telkemale dui die bordjies aan dat ons hoër as 3 200m is. Ons nader Butha Buthe teen so vyfuur die middag. Die skaap word afgelaai. As daar nou al ooit ’n lam ter slagting ge”ly” is ...

Die vrou wat intussen langs my kom sit het, sit nou gemaklik met haar arm op my skouer. Ek is nog steeds in ‘n effense vorentoe-skuins posisie. Dié houding van haar is nogal gesellig. Ek klim af in Butha Buthe se besige strate en loop eers ’n ent. Die vrou wat die mooi Basotho-kieries verkoop, weier my aanbod van R20, ’n baadjie wat op sy dag bo-op Kilimandjaro was en ’n selfoonbatterylaaier vir een kierie. Sy wil net harde kontant hê en dis iets waaraan ek op die oomblik tekort skiet. Ten minste het ek nog R3 vir die taxi tot by die grens. Terug in die land van my herkoms kry ek ’n geleentheid agter in ‘n bakkie tot by die Caledonspoort, Fouriesburg, Clarens-kruising. Ná ‘n rukkie se gewag laai drie priesters van Lesotho my op. Behalwe hul priesterlike pligte is hulle ook sakemanne wat na Durban op pad is vir besigheid. Hulle bestuur ’n Bybelskool en ek gee toe maar my orige R7 vir hulle.

Hulle laai my by die afdraai Clarens toe af. Dis donker toe ek die dorp instap. Ek slaap ‘n onsekere slaap vanaand op die ongewone gemak van ‘n matras in my niggie se huis. Die volgende oggend bied my neef my ’n wonderlike ontbyt aan in hul restaurant, Moulin Rouge. Dis vroegoggend, my maag is vol en ek het ’n geleentheid na Harrismith. Die wiel draai. 

Iets van die alleenreis bekoor my. Dalk is dit die onafhanklikheid, die maklike kontak met medereisigers, of die onsekerheid en geheim van jou eie gedagtes agter in ’n taxi in ’n verlate deel van ons wonderlike land. Die reis is die reis. Die travel is die toer. Die rit is die vakansie.

(Verskyn in Wegbreek-tydskrif)


Share this post



← Older Post Newer Post →


Leave a comment

Please note, comments must be approved before they are published.