Menu
Cart 0

Afrika Mak Gemaak

Posted by Dawid de Wet on

Vir menige besoeker is die vasteland van Afrika donker en misterieus. Daarom verkies hulle om eerder met 'n overland-toer die bosse aan te durf. Vir dié groep was Afrika toe nie wat hulle verwag het nie. Dié is die verhaal van een van my eerste overland-toere.

Veertien reisigers is reg om Afrika aan te pak. Ted van Nieu-Seeland is 71. Hy het gehoorprobleme en moet eers sy gehoorstuk verstel om die gefluit van die vragmotor se turbo's te demp. Sy vrou is Jude. Hulle vier hul 47ste huweliksherdenking op toer, maar hulle lyk 20 en pasgetroud. Martina van Duitsland besoek Suider-Afrika die agtste keer. Sy het haar vriendin Isabelle saamgebring. Die bende skoonhede van Noorweë is in hul twintigs. Hulle is halfpad op 'n wêreldtoer. Tussen dié uiterstes is daar nog vyf Duitsers en 'n Switserse vrou.

Ons begin in Kaapstad met die verskrikking van die toeristehordes op Tafelberg, by Kaappunt en Boulders se brilpikkewyne. Cozy Mountain by Kamieskroon is ons eerste kampbestemming. Dit is dag drie en die senior reisigers het reeds appelkoosmaag en hulle het nog nie eens my kookvernuf beproef nie. Die eerste van vele Afrika-velknypmooimiddae lei ons die Namakwaland in. En daarmee saam tent opslaan 101. Die wind se brieke breek en die reën val ook effens. Vir 'n groentjie is dit die regte doepa met tentopslaan en ek geniet die petalje. Ook nie lank nie of ek begin swaar goed uit die vragmotor dra om die tente vas te pak. Die stabiliseerders doen aanvanklik die ding, maar met aandete stuur ek almal terug tent toe om bottels slaaisous en blikkies sampioene te gaan soek. Sommige is gelukkig om net die gereedskapkas of houtblokke te hê. Die reënboog lê boepens in die lug en lag vir ons soos die wind bedaar met die laaste tentpen ingeslaan. Die aand skuifel in. Perfek. Ons eerste sarsie van Afrika se onvoorspelbaarheid.

Ons tref ons eerste grenspos by Vioolsdrif en Noordoewer. Die 42°C smelt soos die doeanestempel in jou paspoort in. Anderkant die Garieprivier sluit ons aan by Felix Unite se gids vir twee dae van roei en ontspanning op die groengrens. Die roeiery is beproewend en bindend, 'n goeie begin vir die toer. Ons maak vuur, eet, kuier en slaap in ons swembroeke in die soel naglug langs die water. Die oggend kruip ek diep die stil rivier in voordat die sonstrale oor die woestyn begin bulder. Sonder woorde voel ek die magiese Afrika oor my spoel.

Vandag begin die pret. Die magtige Gariep se graad-2-stroomversnellings is glo skrikwekkend. Jude kan nie swem nie, maar maak alles mee. Stefan van Duitsland verloor 'n sonbril en Martina 'n kikoi soos die kano's een vir een duikbote word. Die roeispane dryf darem en ons kry hulle waar hulle in die geselskap van rietduikers, slanghalsvoëls, 'n visarend en reusereier slaplê. Later speel ons nie meer nie en stoeiroei ons teen die wind en die koelbloedige son in. Speelse weerlig oor die ver verlate vlaktes van suidelike Namibië vergesel ons terug kamp toe. Die seëninge in die woestyn vloei oorvloedig. Die aand loop soos stroop - dit is braaivleis en later Springbokkies by die kroeg en stories wat langs die rivier verdwaal.

Van die Gariep druk ons noord na die Visrivierravyn. Ons stop in die dorre woestyn en kyk na kokerbome en klippe en niks. By Hobas is Ted weer op sy stukke. Hy maak 'n "toebroodjie" met twee snye kouevleis en 'n stewige homp rissiesous. Dan lek hy die hele spul op en blameer Nieu-Seeland. Verder praat hy in eenvoudige sinne met bier as voorwerp, onderwerp en werkwoord en laat waai deur sy eie uitlaatpyp. Maar hy is soos goud en die sterkste onder die klomp. Aandete is piekniek op die rand van die tweede grootste ravyn in die wêreld. Weer verslaan die kragte van moeder natuur ons. Eers die wind wat die sand bring, dan die wind wat die reën bring en die weerlig wat klap. Kleure van 'n ander palet maak woorde oorbodig soos die Namibiese toneelstuk hom voor ons uitspeel. Die woestyn bewe. Die woestyn lewe. Ons lag en sny wortels vir die hoenderpotjie. Die weerligskouspel met die laaste strale van die dag buig harte en tril emosies. Eva se benoudheid oor die donderweer gaan lê. Martina gaan aan die huil. Sy was te lanklaas in Afrika. Die toer is reeds die moeite werd, en dis maar dag ses.

Namibië is nat. Die waterletsels lê orals. Die seëninge tref ons soos 'n vloed by die Holoogrivier. Rocco Snyman en Appie van Wyk meen ons kan maar wag, hy sal afloop. Ons maak tee, speel kaart en gesels. Boere kom kyk hoe loop die water en waardeer dit soos net Afrikane kan. Danie Brand van die paaiedepartement sê ons moet omdraai, die Holoog het laasweek vir drie dae só geloop. Ons draai om - oor Grunau en Keetmanshoop na Goageb. Van Bethanie is die pad seepglad. Die Konkieprivier stoomroller aan weerskante van die pad en die ander bestuurders in die vragmotor snak na hul asem as ons gly-gly na die afgrond. Al antwoord is stadig ry. Die wêreld van Helmeringhausen na Sinclairmyn is Zoeloelandgroen en dis moeilik om vir die reisigers te verduidelik dis eintlik woestynwêreld dié.

Die lig gooi 'n straal van genoegdoening oor die voorruit soos ons die Namib se berge inry. Ons stop eers om die vars lug en donker wolke in te asem. Twee reënboë, 'n son wat ondergaan, befoeterde reënwolke, groen Boesmangras op rooi sand en 'n gesteelde knipoog. Ek staan verlore tussen 'n klomp vreemdes in my eie Afrika. Ek is op my gelukkigste. As 'n gids kon huil, sou die trane nou loop.

Die aand trek die wolke weg en langs die vuur weerklink die lag oor die Namib. Vroegoggend gaan stap ons deur die groen woestyn na die Musiekberg. Ons sien 'n paar gemsbokke in die verte op die voorheen kaal vlakte. Môreoggend vertrek ons vieruur en almal slaap sommer in die vragmotor. Alles is opgepak. Dis lekker so vroeg in die dag, maar die uitgespoelde driffies en silwer vosse kruip weg agter die skadu's van die hoofligte. Die son kom op net toe ons Sesriem binnery. Vrede op aarde.

Sossusvlei word bloedig warm en die sand is dik. Jude meen "Only mad dogs and Englishmen walk in the midday sun". Ek sien die res beaam dit stilweg. Die reisigers is moeg. Swakopmund lê ver en daarvoor die Tsondabrivier. By Solitaire sê Moose McGregor ons is gelukkig om deur te kom en troos ons met toebroodjies en sy beroemde appeltert. Makliker gedaan as gesê. Die Kuisebrivier loop ook en die maanlandskap glim met water. Orals lê die poele langs die pad en glimlag uitlokkend. Die voorruit mis niks.

Die Duitsers voel tuis in Swakopmund se wit beddegoed. Na quadbiking, vryvalvalskermspring en storte voel die reisigers soos nuwe mense. Snoek, patats en potbrood doen weer die ding vir my.

Kaapkruis se robkolonie is nie ideaal vir middagete nie en ons gaan ontspan by Myl 87. Van hier is dit na Spitzkoppe. Dis stinkwarm en eensaam. Niks maar alles. Die Duitsers met biere kloek saam op 'n rots in die skadu. Die res van ons begin met die gemsbokpotjie op die vuur. Die son sak oor Spitzkoppe en almal is gelukkig. Karen het 'n sjokoladekoek aanmekaar geslaan en dié praat ook nou op die vuur. Daar's nie fout nie.

Die Omarururivier loop glo stewig en ons word aangeraai om Usakos, Karibib en Omaruru na Uis en Brandberg toe oor te ry. Dié pad vat ons oor mooi woestynbosveld en is nie te versmaai nie. Van Uis gaan ons uitspan by die White Lady Lodge se swembad. Voordat ons na Brandberg gaan, slaan ons eers tent op. Die weer dreig. Ek sê niks. Terug van die stappie na die Wit Dame San-rotstekening wat eintlik 'n swart man is, slaan die reën toe. "Het julle dan nie jul reënseile oorgetrek nie?" dink ek, maar sê eerder niks toe ons die platgeslane tente aantref. Ek is baie trots op my groepie, hulle pak elke struikelblok sonder enige gemompel aan en droog maar tente uit, al dryf hul slaapsakke nou al teen die vuurmaakplek vas. Die stort onder die sterre is bobaas. Môre gaan ons Etosha binne en dit is malariagebied. Van nou af is dit Malorone vir nagereg. En die Tabbard word soos 'n tweede vel aangespuit. Deesdae het dit so 'n goedkoop laerskool-deodorantreuk. Muskietnette spring soos Maasai-vegters op. 

Van Brandberg na Khorixas kry ek hoendervleis. Dit gebeur gereeld. Jeff Buckley se Halleluja in my oorfone met Damaraland wat verbyskuif. Die voorruit van die MAN M2000-vragmotor is soos die grootskerm waarvan hulle altyd praat. Dis my fliek dié. Afrika is vrygewig.

Die Etosha-wildtuin begroet ons met 'n leeupaartjie wat onder die bome langs die pad skuil teen die reën. Okaukeujo is nat en die watergat sonder diere. Die son steek deur en die nat tente kan opgeslaan word. Die namiddagwildrit is pragtig. Dis orals groen en die diere is hartstogtelik bly. Springbokke, gemsbokke, blouwildebeeste en bleeksingvalke. Sven, wat van die uitkyktoring terugkeer, kondig die reën aan wat toe ook met aandete toeslaan. Die kombuis staan knus met honger Afrika-temmers wat dink dat Afrika 'n droë plek is. Swart kewers gaan tot aanval oor tot groot ergernis van die groepie. Die kewers is in die badkamers, in die kombuis, in die nat tente. Dit klink of hulle die tente wil opvreet. Slaap kom maar moeilik vanaand. En die rooijakkalse is ook tergend. Môreoggend verkas ons vroeg. Dis 'n wonderlike dag in Etosha. Net voor Halali kry ons vier leeuwyfies. 'n Ent verder spat die hiënas uitmekaar met die leeuwyfies se prooi se rugstring as ontbyt. Die Etosha-uitkykpunt lyk meer soos Hentiesbaai en die flaminke teen die hersenskim soos dagligspoke. Wild is volop en ons sien alles behalwe olifante. Hulle het aanbeweeg. Afrika bied ons nog 'n verrassing want in die oopte staan 'n swart renoster en eet onhandig met getuite lippe aan die sappige lang gras. Namutoni bied die soveelste mooi sonsondergang met braaivleis en potbrood. Die hiënas jaag die dag weg.

Vandag se rit voel verblydend kort. Miskien is dit die verandering in geaardheid op pad van Tsumeb en Grootfontein na Rundu. Miskien is dit The Wanderer van Johnny Cash in my ore. Miskien is dit die dik reënwolke wat dreigend in ons pad staan of die slapende spul agter in die vragmotor. Miskien is dit die gedagte aan die Egiptiese kobra tydens middagete. Miskien is dit die laggende waaiende skaam kinders wat ons middagete klaarmaak. Ek wat kaalvoet in die bos was. Miskien is dít alles wat die isolasiesensasie bring en wegvat. Afrika bly jou baas.

Van Rundu ry ons parallel met die Okavangorivier die Caprivistrook binne. Ons draai suidoos by Bagani en staan oor by Ngepi reg op die Okavangorivier. Die maan is skril oor die Okavangorivier waar die kabbels nog Namibië s'n is. Sondagoggend en die grens by Muhambo is doodstil. Binne meters is ons reeds besig met Botswana se nasionale sport - donkiedodging. Ons staan oor buite Maun op die Botetirivier. Dié rivier vloei vol en mooi en die wêreld is idillies. Ons pak alles oor in die viertrekvragmotor vir môre se sessie die Okavango Delta in. Dit reën.

Die doringbosse word digter soos ons die delta inneuk. Wilde Afrika word weer 'n realiteit vir die reisigers. Die seiltjies aan die kant van die voertuig word opgerol, en die dak oopgemaak vir dié wat dapper genoeg is om bo-op te sit soos ons deur die water en kameeldorings jaag. Ná die buffelgrens sien ons ons eerste olifant. Middagete word bedien en dan klim die toeriste op die onstabiele mokkoro's. Voor sonsondergang gaan stap ons saam met Heaven deur die bos. Katrin voel flou en gaan sit. Miskien is dit na aanleiding van Heaven se storie oor die worsboom se magiese manlike magte. Aandete is patats en aartappels op die vuur met wors en skaaptjops.

Die Makgadikgadipanne se water stoot sypaadjies op die pad na Nata. Van Nata na Kasane is die slaggate selfs groter lángs die pad. Ons kom 'n paar bronstige olifantbulle wat drup van die afwagting teë. 'n Wildrit in die Chobe-natuurreservaat bring nog water, dié keer met 'n olifantgesin. Grensoorsteek na Zimbabwe is 'n antiklimaks ná al my praatjies oor gepaste optrede. Almal moes wel hul paspoorte in die lug hou sodat Offisier Belangrik kon sien hulle het dit darem. Nog olifante vergesel ons op die pad na die Victoria-waterval en 'n buffel verwelkom ons voor die hek van ons kamp.

Die rusdag is salig met "George swing" (ravynswaai), helikoptervlugte oor die waterval en 'n sonsakbootrit. Ongelukkig is die Zambezirivier te vol vir rivierroei en dit maak die besoek aan die waterval ook baie nat. Maar wat het ons verwag in droogtegeteisterde Afrika?

Die grote Hwange-natuurreservaat bied mahems, swartwitpense en koedoes by die watergat. Selfs die volmaan kan nie die reisigers opbeur nie, hul tyd in Afrika word min. My gemoed sak ook saam met die son. In Bulawayo koop ek twee blokke ys teen 38 000 000 Zim dollars. Die middag vat Andy ons om renosters te voet te gaan opspoor in die Matopos. Dis een van die hoogtepunte van die toer. Sy geesdrif en die witrenosterkalfie wat twee meter van ons af kom ondersoek instel, is 'n groot Afrika-ervaring. So ook die Land Rover wat sonder diesel gaan staan net toe die maan oor die granietkoppies loer.

Beitbrug is sonder voorval en ons is terug in die Republiek met selfoonopvangs en OTM's wat werk en my gemoed sak hoe verder suid ons ry. Ons laaste aand rondom die kampvuur onder die sterre met die Afrika-sonsondergang is hartseer. Stefan drink nog steeds gin na elke ete, glo vir die malaria. 

Die naarheid stoot in my keel op toe die paasnaweekverkeer op die N1 by Polokwane ons begroet. By Modimolle trek ons af op 'n grondpad net om vir die laaste keer die bos te proe. En die sjokoladekoek wat ek gisteraand op die vuur gekoester het. My hart sit nou in my keel. Ná 24 dae moet ek 14 vriende groet. Ek moet terug in die diep donker stad. Ek moet terugkom aarde toe. Vir hulle was dit dalk wilde Afrika, vir my was dit huis, en nou moet ek dit vaarwel toeroep tot die volgende keer, met nuwe reisigers. Maar ek weier, ek wil nie, ek wil nie terug stad toe nie. Ek sien op teen hartseer koebaais en leë beloftes van weersiens. Afrika vreet my op.

Vir dié reisigers was Afrika toe nie so wild nie. Ook nie so droog soos hulle gedink het nie. Hy het sy sagte kant aan ons gewys. Maar elke Afrika-sonsopkoms, weerligstraal, dubbele reënboog en kopergeelsonsondergang met die maan aan die opkom, het hul verstand te bowe gegaan. Myne ook. Afrika verras en betower kind en inkommer elke dag, vir mý dalk meer as vir die reisigers.


Share this post



← Older Post Newer Post →


Leave a comment

Please note, comments must be approved before they are published.